Hy kan die werk doen. Maar hy doen dit net nie.

Wanneer ’n kind die werk kan doen, maar weier om dit te doen, verander die situasie maklik in ’n magstryd. Hoe behou ons verantwoordelikheid sonder om elke keer in ’n geveg te beland?

Jy het dit al drie keer gevra.

Hy weet wat hy moet doen.

Die werk is nie vir hom te moeilik nie.

Maar daar sit hy.

En hoe meer jy druk, hoe meer grawe hy sy hakke in.

Nou begin dit ’n magstryd word.

My eerste gedagte sou nie wees:

“Hoe kry ek hom nou om te gehoorsaam?”

nie.

Ek sou eerder wonder:

Wat moet hier verander sodat ons steeds die doelwit kan bereik sonder dat hierdie hele situasie in ’n geveg verander?

Miskien begin ons vandag met ’n kompromie.

“Goed. Jy hoef nie al tien somme nou te doen nie. Kom ons doen eers vyf.”

Maar die kompromie is nie die eindpunt nie.

Ek wil steeds agter die kap van die byl kom.

Wanneer dinge rustiger is, sou ek eenvoudig vra:

“Ek weet jy kan die werk doen. Wat is die rede waarom jy dit nie wil doen nie?”

En dan luister ek.

Miskien is die antwoord belangriker as wat ek verwag het.

Miskien is die antwoord bloot:

“Ek is nie lus nie.”

Dan kan ons ook dáároor praat.

Want die lewe bestaan uit keuses.

Ek is as volwassene ook nie altyd lus om alles te doen wat gedoen moet word nie. Maar soos ons ouer word, moet ons leer dat “ek is nie lus nie” nie altyd die besluit namens ons kan neem nie.

Dit beteken nie ek gaan met ’n kind baklei totdat een van ons wen nie.

As die situasie handuit ruk, het ons dalk albei ’n bietjie afkoeltyd nodig.

Ons kan later weer probeer.

En môre?

Môre gaan ek nie die hele dag na hom kyk asof hy “die kind is wat gister moeilik was” nie.

Hy kry weer ’n skoon bladsy.

Daar kan steeds ’n gevolg vir sy keuse wees.

Maar die gevolg hoef nie sy identiteit te word nie.

Ek sal kyk wat ék kan verander.

Ek sal hom halfpad ontmoet wanneer dit nodig is.

Maar hy moet ook iets na die tafel bring.

Ek kan hom help om die werk te doen. Ek kan nie namens hom besluit om dit te wil doen nie.

En dalk is dit waar ons soms die belangrike onderskeid moet raaksien:

Om ’n kind te probeer verstaan, beteken nie dat ons alle verantwoordelikheid van hom wegneem nie.

Ons kan albei doen.

Ons kan vra:

“Hoekom is dit vir jou moeilik?”

én steeds sê:

“Goed. Wat gaan ons nou daaraan doen?”

Elke dag gaan nie perfek verloop nie.

Maar môre kry ons weer ’n kans om dit anders te probeer.

Opvoeders en ouers: Wat werk vir julle wanneer “ek wil nie” begin verander in ’n magstryd?

— Kobie Kleynhans